FSB doen Stappe na Outsurance Uitspraak

Posted on

Kort na die hofuitspraak waarin daar in Outsurance se guns bevind is ten opsigte van ‘n eis wat hulle verwerp het, het die Reguleerder ingetree om ‘n herhaling te voorkom van wat blyk ‘n praktyk te wees wat nie in die gees van Regverdige Behandeling van Kliënte (TCF) is nie.

Media 24 berig as volg:

Nadat ’n versekeringseis vir ongelukskade van R608 722 aan ’n Audi R8 4.2 FSI Quattro deur die korttermynversekeraar OUTsurance verwerp is én deur die hooggeregshof in Pietermaritzburg bekragtig is, het die tesourie ’n dringende vergadering aangevra met die Suid-Afrikaanse versekeringsvereniging (SAIA), die verteenwoordigende instelling van die korttermynversekeringsbedryf.

Die doel van die vergadering is om seker te maak dat die verkeerde vertolking van die hofuitspraak lei tot die lukrake verwerping van eise en verwarring onder polishouers.

In die onderhawige geval is ’n eis van Sherwin Jerrier, die eienaar van ’n restaurant in Durban, deur OUTsurance verwerp op grond daarvan dat hy nie skade van R200 000 aan sy motor weens ’n ongeluk in April 2009 by die versekeraar aangemeld het nie. Dié ongelukskade het eers aan die lig gekom toe Jerrier in Januarie 2010 weer in ’n ongeluk betrokke was en ’n eis van R608 772 ingedien het om die motor te laat herstel.

Die eis is verwerp op grond daarvan dat Jerrier nie die polisvoorwaardes nagekom het nie deur sy versuim om die eerste ongeluk – wat na bewering gebeur het toe hy onder die invloed van drank was – by die versekeraar aan te meld.
OUTsurance het aangevoer dat skade van R200 000 aan ’n motor wat vir R850 000 verseker is, sou lei tot ’n hoër risiko-aanslag van die versekerde wat ’n hoër premie sou regverdig.

’n Woordvoerder sê die nasionale tesourie is veral bekommerd daaroor dat die hofuitspraak verkeerdelik deur korttermynversekeraars vertolk kan word dat polishouers “verplig is om -elke klein stampie of skrapie aan hul motors by die versekeraar aan te meld”, en as hulle dit dan nie doen nie, hul eise verwerp sal word.

Indien versekeraars dit doen, sal dit strydig wees met die beginsels van die beleid oor die regverdige behandeling van kliënte (RBK) wat aanstaande jaar in werking tree en ’n groter verantwoordelikheid op produkverskaffers plaas om seker te maak dat hul produk die belange van kliënte dien.

Die SAIA sê in ’n verklaring sy standpunt bly dat korttermynversekeraars alle geldige eise kragtens die polis moet uitbetaal.

“As die polishouer nie die voorwaardes nakom nie, moet die versekeraar steeds die eis betaal as die versuim nie wesenlik is met betrekking tot die risiko’s wat deur die polis gedek word nie,” sê Kwanele Sibanda, hoof van kommunikasie by die SAIA.

Soos Maandag berig, het die kliënt sy brue verbrand deur nie van die industrie stelsels tot sy beskikking, gebruik te maak nie, maar direk hof toe te gaan. Ons is van mening dat, sou hy deur ‘n makelaar gewerk het, eerder as direk met die versekeraar, die kanse goed is dat hierdie situasie nie sou ontstaan het nie. Is dit nie dalk nog ‘n voorbeeld van goedkoop koop wat tot duur koop gelei het nie?