Regulatoriese Eksamens – Tyd raak Min

Posted on

Diegene wat voor die einde van 2013 nog die eksamens suksesvol moet aflê, moet asseblief let op die proses wat gevolg moet word, en nie onnodige druk op hulself plaas nie, of hulself die geleentheid ontsê om weer te skryf as hulle nie met die eerste probeerslag slaag nie.

Ons het onlangs bevestiging van die FSB gekry oor die finale datum vir nuwe toetreders – as jy na Januarie 2011 aangestel is, het jy tot Desember 2013 tyd om die eksamen af te lê. Vir baie kandidate beteken dit “nog ‘n bietjie sluimer, nog ‘n bietjie slaap”.

Daar is uiteraard ook produksiedruk op hulle, en die noodsaak om die eksamen te slaag is nie naasteby so groot as om ‘n lekker tjek aan die einde van die maand te verseker nie.

Dit lyk of daar tussen nou en middel Desember, wanneer die laaste regulatoriese eksamens vir 2013 aangebied word, nog baie tyd is. As mens in ag neem dat daar tussen registrasie en die skryf van die eksamen voorsiening gemaak word vir 15 werksdae (drie weke), dan gaan jy dit fyn sny om weer te registreer as jou uitslae nie suksesvol is nie.

Die laaste eksamendatum by ons permanente sentrums is 18 Desember 2013. Die laaste Afrikaanse eksamen is geskeduleer vir 3 Desember 2013.

As jy dus tussen nou en dan moet registreer en skryf, moet jy ses weke aftrek vir registrasie.

As mens dit uit ‘n meer positiewe perspektief wil benader, dan moet jy vir jouself afvra hoe lank jy met hierdie verpligting in jou agterkop wil rondloop. Indien jy nog glo dat Moses van die berg af gaan kom om te verkondig dat die vlak 1 eksamens afgestel gaan word, het ek slegte nuus vir jou. Daar is net te veel mense wat al baie opgeoffer het om die eksamens deur te kom. Aanvaar dit as ‘n gegewe, en beplan daarvolgens.

Dit is natuurlik ook waar dat daar geen voorskrif is dat jy moet wag tot die laaste dag nie. Ons is bewus van produkverskaffers wat proef eksamens vir hul kandidate aanbied. Wanneer hulle dit slaag, is hulle gereed om die eksamen te skryf. Inderdaad het van hulle verlede week hul kandidate aangesê om te registreer, ondanks die feit dat hulle nog nie die “proewe” geslaag het nie. As hulle voel die tyd raak min moet jy dalk ook iets daarin lees.

Die spreekwoord lui: Van uitstel kom afstel. Dit is egter nie ‘n opsie vir kandidate wat die eksamens voor die einde van 2013 moet aflê nie.

Doen dit asseblief, in jou eie belang, vroeër eerder as later.