Professionele Vrywaring en Jou Regte

Posted on

Ons moes nogal kopkrap oor wat “Professional Indemnity” in Afrikaans is. Bogenoemde is volgens die regsmense en taalkundiges die korrekte term, hoewel professionele indemniteit skynbaar ook korrek is. Dit mag so wees, maar nie vir my nie, dankie.

Die Raad op Finansiële Dienste (RFD) se telematiese aanbieding op 7 Maart het ‘n wye verskeidenheid onderwerpe gedek. Aangesien ons onlangs heelwat gesprekke gevoer het rondom die verpligting om professionele vrywaringsdekking uit te neem, het ek dit goed gedink om die volgende brokkie uit die aanbieding met ons lesers te deel.

Die rede waarom Professionele Vrywaring verpligtend is, is om te verseker dat wanneer ‘n kliënt ‘n eis teen die adviseur instel, hy in staat sal wees om die kliënt te vergoed. Dit is, met ander woorde, ‘n vorm van verbruikersbeskerming.

Die FSB het klagtes ontvang van Finansiële Diensverskaffers ( FDVs) oor eise ten opsigte van professionele vrywaring wat afgewys is, sowel as gevalle waar daar eensydige kansellasie van dekking deur die versekeraar was.

Eise wat Afgewys is

Daar is ‘n interessante nuwe verhouding in hierdie situasies vir adviseurs wat gewoonlik in die beskuldigde bank staan.

In terme van die FAIS Wet is jy as FSP nou die kliënt. Die tussenganger wat die Professionele Vrywaringsdekking aan jou verkoop het, is die tussenganger en die versekeraar steeds die produkverskaffer. Jy het, in gevalle waar jy voel dat jy te na gekom is, die volgende opsies:

  1. Jy kan die saak na die Korttermyn-Ombud verwys, waar die weiering van die eis na jou mening voortspruit uit nie-nakoming van die Korttermyn-versekeringswet.
  2. Jy kan die saak na die FAIS Ombud verwys as die weiering van die eis voortspruit uit ‘n fout van die tussenganger betrokke by aansoek om die versekering.
  3. Jy kan jou saak in die hof gaan stel.

Eensydige Opsegging van Polisse

Die versekeraar mag nie die polis eensydig beëindig sonder kennisgewing soos hieronder aangedui nie:

  1. Direk aan die polishouer, 30 dae voor die kansellasiedatum.
  2. Deur te verseker dat die kliënt deur die betrokke adviseur, onderhewig aan die voorwaardes in 1. hierbo, sodanig ingelig word of
  3. Indien nie een van bostaande opsies moontlik is nie, dan deur publikasie van sodanige kennisgewing in twee uitgawes van ‘n koerant wat verskyn in die areas waar dit redelik aangeneem kan word die betrokke polishouers woon, en deur ‘n afskrif van sodanige kennisgewing aan die Registrateur voor publikasie.

Dit is redelik seker dat die kontrak voorsiening sal maak vir kansellasie, dus sal dit moeilik wees om die versekeraar hierop aan te vat.