Minder Rompslomp vir Maatskappye, BK's

Posted on

Alle maatskappye en beslote korporasies is wetlik verplig om jaarliks opgawes in te dien by die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom (CIPC). Lesers sal onthou dat daar so ‘n paar jaar gelede groot konsternasie was toe duisende BKs se registrasie opgeskort is, en hulle, in terme van die wet, gevaar geloop het om hul bates aan die staat te verbeur.

Dinge het intussen verander, maar die verpligting is steeds daar. Deur die kommissie se webtuiste te besoek, kan alle maatskappye en BKs die huidige stand van hul ondernemings by die kommissie nagaan, dit op datum bring en reël vir die betaling van agterstallige fooie, indien daar is.

Sake24 berig dat daar ook verligting in sig is vir nuwe maatskappye wat sukkel om die registrasieproses en ander wysigings by die kommissie afgehandel te kry. Aangesien nuwe beslote korporasies nie meer opgerig mag word nie, is dit nie hier ter sake nie.

Vanaf 1 Februarie stel die CIPC ’n faks-tot-e-pos-diens in waarmee kliënte aansoeke kan indien.

“Astrid Ludin, kommissaris, sê dit beteken kliënte in afgeleë streke sal nie meer na Pretoria hoef te reis daarvoor nie. Hulle sal egter die oorspronklike dokumente moet hou ingeval CIPC dit versoek. CIPC stel ook ’n skanderingsprojek in fases in om die hoeveelheid papier in sy kantore te verminder, asook die risiko dat kliënte se inligting verloor word, sê sy.

Vorms wat na 086 6186 960 gefaks kan word, is:

  • naam- en defensiewe-naambesprekings en -uitbreidings (vorms CoR9.1, CoR9.2, CoR10.1 en CoR10.2);
  • nuwe maatskappy-aansoeke (CoR15.1A tot CoR15.1E);
  • omskakelings van beslote korporasies in maatskappye (CoR18.1);
  • maatskappyveranderinge (CoR21.1, CoR21.2, CoR22, asook handleiding CoR39 en CoR44);
  • deregistrasie van maatskappye en beslote korporasies (deregistrasie-versoeke en CoR40.2);
  • en die herinstelling van maatskappye en beslote korporasies (CoR40.5).

Kliënte word gevra om CIPC se webwerf (www.cipc.co.za) gereeld te besoek vir bygewerkte inligting en om seker te maak dat hul inligting op CIPC se register korrek is.