Afrikaanse REs – Gebruik van die Woordelys

Posted on

Een van die bepalings en voorwaardes van die regulatoriese eksamens lees as volg:

Kandidate mag nie enige van die volgende items in die eksamen lokaal inbring, of tydens die eksamen in hul besit hê nie:

  • Ongemagtigde apparate,
  • boeke,
  • papier,
  • elektroniese kommunikasie apparatuur of
  • notas van watter aard ookal nie.

 

Dit geld ook vir die woordelys wat die FSB beskikbaar gestel het om Engelse terme in Afrikaans tot die beskikking van kandidate te stel. Die doel van die woordelys is vir gebruik tydens voorbereiding, nie in die eksamenlokaal self nie. Die vraestel is uiteraard in Afrikaans.

 

Daar was ook navrae of die vraestelle nie in Engels en Afrikaans beskikbaar gestel kan word sodat kandidate, in geval van onduidelikheid, na die Engelse vraag kan kyk nie.

 

Daar is verskeie redes waarom dit nie kan gebeur nie, waarvan die vernaamste een van billikheid is. Almal wat reeds die eksamens afgelê het, sal uiteraard kan beswaar aanteken dat hulle nie dieselfde voordeel gehad het nie. Voorts kan onsuksesvolle kandidate aanvoer dat hulle mislei is ten opsigte van die vraag deurdat die Engelse vraag hulle begrip verwring het.

 

Die Afrikaanse vrae is volgens dieselfde standaarde en werkswyse as die Engelse vrae opgestel. Die riglyne hiervoor is verskaf deur die nasionale eksamineringsliggaam. Die rede waarom daar soveel moeite gedoen is, is omdat dit ‘n professionele eksamen is, en daar geen verskil in kwaliteit tussen die Afrikaanse en Engelse eksamens mag wees nie.

 

Die bepalings en voorwaardes in Afrikaans is op ons webtuiste beskikbaar. Kliek op hierdie skakel om dit, sowel as ander toepaslike materiaal, te sien.