Dis ‘n Slagveld

Posted on

Hierdie week se voorskou fokus amper meer op wie nié kan speel nie, as die spanne se samestelling self.

Bulle lyk Beter

Jan Serfontein
Jan Serfontein

Die span vir Saterdag se wedstryd teen die Brumbies is aansienlik versterk, ondanks die vyf beserings wat die toerspan se opsies gekortwiek het. Morné Steyn se terugkeer sal baie meer planmatigheid aan die agterlyn, en die Bulls se spelpatroon in die geheel, verleen. Hoewel Louis Fouché se skopskoen pale toe verlede week dodelik was, was sy taktiese skoppe een van die grootste redes waarom die span so baie besit afgestaan het. Die mees opwindende aspek vir my is egter die insluiting van Jan Serfontein in die beginspan. Juandré Kruger se terugkeer is nog ‘n versterking, en ek voorspel dat die Bulls hulle beter gaan laat geld as verlede week. Jake White se kennis van ons plaaslike spelers gaan egter sterk in die guns van die Brumbies tel, hoewel die Stormers gewys het hoe hulle ore aangesit kan word.

Stormers Ontwrig

Die verlies van Tiaan Liebenberg, tesame met die afwesigheid van Steven Kitshoff, en Pat Cilliers buite posisie op loskop, gaan baie probleme vir die Stormers beteken teen die bulpak van die Crusaders. Laasgenoemde mis ook drie kern spelers, maar het in die verlede gewys dat daar nog baie ander in die spens is waar daai vandaan kom. Te wyte aan die minder goeie begin van die seisoen is die Stormers nou byna weekliks onder druk om te wen. En dit kan nie veel groter druk wees as om teen die Crusaders te moet wen nie.

Cheetahs Tuis

Die Vrystaters en hul ondersteuners loop sekelstert na hul goeie toer, en hulle kon beswaarlik vir ‘n makliker wedstryd, direk na hul terugkeer, gevra het as een teen die Rebels. Oorgerustheid is waarskynlik die grootste gevaar, maar daar is iets in die Cheeta span hierdie jaar wat my laat dink hulle koppe is reg aangeskroef.

Hurricanes en Kings

Beide spanne se kanse om die uitspeelrondtes te haal, lyk nou nie na wat mens rooskleurig sal noem nie. Die Hurricanes het darem die tuisveldvoordeel, terwyl die Kings massiewe beseringspoke moet verjaag. Hulle het nog nie regtig kans gehad om ‘n hegte eenheid te bou nie. As dit nie beserings is nie, dan oortree hulle die nuwe kwotastelsel en spelers wat ingeoefen was, moet terugstuur word huis toe. Wat veral hartseer is, is die gehalte spel wat die Madibas tans speel. Ek voorspel hulle gaan baie diepte aan die Kings verleen in die volgende jaar of twee, maar of dit op Super 15 vlak gaan wees, is te betwyfel.

Varsity Beker

Maties teen Tukkies op Coetzenburg is amper so goed soos WP teen Noord-Transvaal in my jongdae. Dit moes eintlik die Madibas wees, en nie Maties nie, maar soos Boy Louw gesê het: “Checks de scoreboard.” Gaan Tukkies dit reg kry om weer sulke aanskoulike rugby te speel teen die Maties se dodelike verdediging, of gaan hulle die wedstrydplan verander?

Ondanks enige iets anders is die manier waarop punte aangeteken word (strafskop 2 punte, doelskop 3 punte) ‘n reuse sukses, en iets wat ek graag verder sal wil sien ontwikkel.

Mag jou Paaseier nie ‘n windeier wees nie, ou Grote!