Plaaslike Rugby Verwikkelinge

Posted on

‘n Interessante artikel rakende Rugby vennootskappe soos berig in Netwerk 24:

’n Vennootskap ter wille van oorlewing in ’n ál moeiliker finansiële omgewing.

Dít is waarop die Bulle se nuwe Superrugby-vennootskap met die Pumas, Grens en die Boland neerkom, sê Barend van Graan (foto), die Blou Bulle Maatskappy (BBM) se uitvoerende hoof.

Die wenkbroue het gelig toe die BBM onlangs bekend gemaak het die Boland, wat op die Westelike Provinsie se voorstoep is, is nou ’n vennoot van die Bulle.

Dit maak immers uit ’n geografiese oogpunt nie veel sin nie.

Van Graan meen dit “is die pad vorentoe vir Suid-Afrikaanse rugby”.

“Ons het ’n volhoubaarheidsuitdaging. Al die unies sukkel met hul finansies weens dalende toeskouergetalle, beperkte borgskappe en die wisselkoers.”

Hy sê die BBM het ’n strategiese besluit geneem om meer as een vennoot aan boord te neem.

“Ons werf so baie spelers uit die Oos-Kaap en Wes-Kaap dat ons gedink het dit sal wys wees om met die Boland en die Grens hande te vat.

“Die Pumas is ons bure en daar was nog altyd goeie samewerking tussen dié unies.

“Dit gaan nie net daaroor om die beste spelers in daardie streke te werf nie, maar om ook iets terug te gee.”

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het ’n meevaller van R3 miljoen aan die groot unies gebied om die “kleintjies” onder hul vlerk te neem.

Die WP en Suidwestelike Distrikte (SWD) het sedertdien bande gesmee, terwyl die Haaie en die Luiperds ’n ooreenkoms gesluit het.

Die Cheetahs en die Griffons is bedmaats en die Leeus het die Griekwas aan boord geneem.

Van Graan sê die vennootskap is baie meer as ’n kontantvoordeel.

“Hoe beter die skole- en klubstrukture by die unies is, hoe groter en beter sal die spelerpoel wees.

“Ons is in ’n posisie om ons hulpbronne strategies tot almal se voordeel te gebruik. En die Bulle is nie van plan om op te tree soos ’n groot boetie wat alles weet nie.”

Die BBM het reeds die Boland se skeidsregtersuniforms geborg en daar is planne om videokonferensiegeriewe by die unies te installeer om kommunikasie te vergemaklik.

“Ons is ver uit mekaar en ons sal dit prakties werkbaar moet maak. Opleiding van afrigters en skeidsregters sal byvoorbeeld belangrik wees.

“Die plan is om afrigters uit te ruil en hulle Loftus toe te bring.”

Van Graan sê die vennote sal gesamentlike borgskappe probeer beding.

“Ons sal mekaar op kommersiële vlak kan help. Steval, die Pumas se spanborg, kry reeds blootstelling op Loftus Versfeld.

“Daar is ook aansienlik meer Bulle-ondersteuners in die Oos-Kaap as wat daar Grens-ondersteuners is. Dit is ’n oorweging om in die toekoms van die Bulle se oefenkampe in Oos-Londen, Wellington of Mbombela (Nelspruit) te hou.”

Maar die groot vraag is: Gaan die Bulle nou carte blanche hê om belowende swart spelers na Pretoria te lok?

“Waar ons altyd as ’n vyand spelers gaan werf het, sal ons dit nou as ’n vennoot kan doen.

“Ons het nie skole wat genoeg bruin en swart rugbyspelers oplewer nie. Die proses sal tussen al die unies gekoördineer word.”

Sommige unies sou versigtig gewees het om met die Grens ’n ooreenkoms te sluit, gegewe die unie se swak prestasies op en van die veld af.

“Die vier unies sal steeds outonoom bedryf word. Dit is ’n samewerkingsooreenkoms en ons het geen seggenskap oor wat die ander unies doen nie.

“Die doel van die vennootskap is om die unies se prestasie op en van die veld af te verbeter.”