Daar lê die Ding

Posted on

Die spelers wat vir die Springbokke op nommers 15, 10 en 9 gaan uitdraf, sowel as die plaasvervangers in hierdie sleutelposisies, kan bepalend wees in die uitkoms van die reeks.

Fourie du Preez se aankondiging dat hy hom nie “onbeskikbaar” stel vir die Bokke nie, maar net in geval van nood sal speel was vir my ’n baie mooi gebaar. Ek glo dit sal ook die geval met Victor Matfield wees, wat in ’n werklike noodgeval gebruik kan word.

Du Preez se oorhandiging van sy mantel aan Francois Hougaard maak nogal sin, veral as mens se logika vir jou sê dat Morné Steyn na alle waarskynlikheid Heyneke Meyer se keuse op losskakel sal wees.

Hougaard verdien uit eie reg om in die span te wees. Sy onortodokse spel en veral die oorgawe waarmee hy in elke faset van die spel homself 120% gee, maak van hom ’n onmisbare speler. Dan is daar ook sy veelsydigheid, hoewel ek hoop en vertrou dat Heyneke hom nie ook so gaan rond beweeg dat hy later, soos die spreekwoordelike verkleurmannetjie op ’n Smartie boks, nie meer weet wie of wat hy is nie. Een moontlike oorweging vir die Bok nommer 9, Ruan Pienaar, was juis so ongeval, totdat hy landuit is en nou reeds twee maal die Heineken speler van die jaar was. Fourie du Preez noem ook vir Jano Vermaak as opsie, maar daar dink ek hang sy Bloubul onderrok effens uit. Sarel Pretorius en Dewald Duvenhage verskyn op my lysie voor hom.

Die kritiek op Morné Steyn, veral uit Bulls geledere, het my verstom. Sy huidige spelpeil is tekenend van die beskeie mens wat hom nie laat onderkry deur onkundige kritiek nie. Die speler wat hom wil lig, sal duidelik Dan Carter se meerdere moet wees. Daar is tans verskeie aanspraakmakers, waarvan die sterkste, Johan Goosen, tans beseer is. Patrick Lambie is vir my in dieselfde liga as Hougaard – hy moet in die span wees, al is dit ook op haker. Peter Grant is waarskynlik die nommer drie keuse as SA losskakel. Meyer se wedstrydplan sal waarskynlik deur die nommer 10 tot uitvoer gebring moet word, wat my keuse van Steyn op 10 steun. Solank Meyer net self kyk en nie op JJ van Blouwen se opinie in Sport24 staatmaak nie.

Die nommer 15 posisie kan self heelwat kompetisie tot gevolg hê. Tans wil dit voorkom of Lambie, Hennie Daniller en Joe Pietersen die voorlopers is, maar daar is nog ’n paar ander name wat nie die span in die steek sal laat nie. Hier dink mens aan Riaan Viljoen, Louis Ludik en selfs Gio Aplon, afhangende van wie op vleuel gaan speel en wat Meyer se wedstrydplan gaan wees. En dan is daar nog Frans Steyn ook.

Wat ook al die finale keuses, ek dink ons sit met veel meer talent as wat ons tans kan gebruik. Lekker né?

Maandag kyk ons na res van die agterlyn.