Die Barmhartige Samaritaan

Posted on

Eugene Ehlers skryf onlangs:

My dogter moes Johannesburg toe vlieg om ‘n perd te gaan koop en het die oggend voor 08h00 daar geland. Sy het ‘n afspraak vir 09h00 gehad om die perd te besigtig.

Ek het haar vliegkaartjie en motorhuur deur Discovery bespreek en vir Europcar geskakel om te hoor hoeveel geld hulle op haar (studente) kredietkaart gaan vasmaak, sodat ek genoeg geld op haar kaart kon plaas. Toe sy by die lughawe kom om die huurmotor op te tel, het sy nie genoeg geld op haar kaart nie, want Europcar wil toe sowat R3 000 meer hê as wat hulle telefonies aan my bevestig het. Terwyl my dogter met hulle redekawel en argumenteer hieroor, hoor Du Toit Van den Berg, van BellRyck Finansiële Konsultante, wat op dieselfde vlug was, van hierdie gedoente. Hy stap toe nader en versoek Europcar om my dogter se huurmotor op sy kredietkaart te sit, wat hulle toe doen en my dogter kon betyds by haar afspraak uitkom.

Du Toit het my dogter van geen kant af geken nie, maar sy goeie mensekennis het gemaak dat hy haar vertrou het om die geld terug te betaal.

My dogter het hom agterna ‘n paar keer versoek om die rekening aan haar te stuur, wat hy toe eers op 13 Maart gedoen het, net mooi 2 maande nadat sy die voertuig gehuur het! Hy was nie eers haastig vir sy geld nie!

Stories soos hierdie, is gewoonlik “urban legends” wat nooit eerstehands met iemand gebeur nie, maar hierdie een is definitief nie ‘n “urban legend” nie, want dit het persoonlik met my en my dogter gebeur.

Ek wens die publiek kan hiervan te hore kom, want hulle het so dikwels ‘n wanpersepsie van finansiële adviseurs.

Graag sê ek weereens baie dankie aan mense, soos Du Toit, wie nie skroom om sy medemens te hulp te snel nie. Dalk kan jy ‘n plekkie vind in een van jou nuusbriewe om hierdie storie met ons ander makelaars te deel.

Dankie Eugene. In hierdie tye is opbouende nuus baie welkom.