Bok Rugby Beter

Posted on

Die meeste van ons sukkel nog om die impak van Saterdag se oorwinning oor die All Blacks reg te verwerk.

Van die meer sober gedagtes wat sedertdien aan die lig gekom het, is dat ons weer nie in die tweede helfte kon voortbou op ‘n stewige fondament nie. Die All Blacks het 12 punte aangeteken, ons net 6. Toegegee, ‘n wen teen die aartsvyand is ‘n prestasie, maak nie saak met hoeveel punte jy wen nie – selfs een is genoeg vir my. Dalk sou ‘n groot pak slae meer sielkundige skade aan die All Blacks gedoen het in die aanloop tot die Wêreldbeker oor minder as ‘n jaar.

Die ander aspek is Jonathan Kaplan se redenasie dat die laaste strafskop, hoewel geregverdig, nie behoort toegeken te gewees het nie. Die skeidsregter het hom laat lei deur wat op die groot skerm vertoon is. Nie hy, of die assistant-skeidsregters, het die voorval gesien nie. Ons troos ons daaraan dat ons wel in die verlede aan die verkeerde kant van onbillike beslissings was, maar daardie strafskop het vir ons die wedstryd gewen, danksy Lambie se ou kop op sy jong skouers.

Daar is by my min twyfel dat Ellispark se skare se reaksie ‘n deurslaggewende rol gespeel het in die skeidsregter se besluit om die strafskop wel toe te ken. Daar voor my TV het ek aangedring op ‘n rooikaart, of minstens ‘n gele, maar die beslissing dat Schalk eintlik in die proses gebuk het, het dit verhoed.

Gaan dit dalk ‘n presedent vorentoe skep? As Eben Etsebeth die opposisie se klein skrumskakel om die kop beet kry, kan hy betoog dat hy nie laer kon bykom nie?

Na die stof gaan lê het, staan die telling steeds in die anale aangeteken.

Soos Fred Astaire in 1937 gesing het: They can’t take that away from me…

Die goeie ou dae

Juis in daardie tydperk, en vir lank daarna, is daar geglo dat dit goed gaan met Springbok rugby as alles wel is met Maties- en WP rugby.

Die Kaapse Curriebekerspan is bo-aan die Curriebeker punteleer, en dinge by Maties is aan die kook om hul strukture te hersien. As hulle boonop die Varsitybeker wen, gaan ek beslis my geld op die Springbokke sit om ook die wêreldbeker huis toe te bring.

Of wat sê jy, ou Grote?