Wat Vir My Gewerk Het

Posted on

Een van ons lesers wat die RE 5 eksamen met 92% geslaag het, deel met ons lesers hoe hy suksesvol te werk gegaan het om sy regulatoriese eksamen te slaag.

Net kortliks my ervaring van die RE eksamen.

Ek het studiemateriaal en videos van my werkgewer, asook die handleiding van oor die 300 bladsye van ‘n opleidingsmaatskappy gebruik, bloot omdat dit die enigste was wat ek op kort kennisgewing in die hande kon kry. Beide stelle materiaal behels ‘n verwerking van die tersaaklike wetgewing, maar haal dan ook elke keer die tersaaklike wetgewing volledig aan sodat dit maklik is om eers die fasiliteerder se interpretasie te volg en dit dan in die taal van die wetgewer self te lees. Ek het dit in Engels gedoen.

My voorbereiding het behels die week voor die eksamen Dinsdagaand 4 ure, Saterdagaand 4 ure en Sondag 13 ure. Dit was nie uit eie keuse nie, maar onder omstandighede al tyd wat ek beskikbaar gehad het.

Wenke:

  1. Tydens voorbereiding maak notas van enige syfers wat jy teenkom soos byv tydperke, bedrae ens. Dis dan maklik om dit weer deur te werk sonder om die hele studiestuk te moet nadertrek. Ek het by die 40 sulke aantekeninge gemaak en verskeie daarvan het in vrae opgeduik.
  2. Los ‘n vraag wat jy nie dadelik verstaan nie of wat lank is, uit en kom later terug daarnatoe
  3. Gebruik elke minuut tot jou beskikking. Ek was na 60 minute klaar en het toe elke vraag weer sorgvuldig deurgewerk – en in die proses die antwoorde op 13 vrae met die weer deurgaan verander.
  4. Geen vraag wat in die studiemateriaal voorgekom het, het ook in die eksamen verskyn nie. Jy stel jouself op vir faal as jy net op die studiemateriaal vrae konsentreer. Ek glo wel dat daar mense is wat nie die eksamen deurgekom het nie omdat hulle eerder op die deurwerk van vrae konsentreer as op die bronmateriaal self.
  5. Daar het steeds een vraag voorgekom wat nêrens in die studiemateriaal of tersaaklike wetgewing gedek is nie. Moet dus nie aanvaar dat wat jy as studiemateriaal gebruik, heeltemal volledig is nie. Bronmatriaal bly dus belangriker as studiegidse.
  6. Verstaan die werk, want dan raak dit gesonde verstand om die regte antwoord uit te redeneer. Die grootste wenk wat ek kan gee, is om jou kennis van die werk te gebruik om antwoorde uit te redeneer eerder as om dit te probeer herken, wat die patroon is waarop meeste meervoudige keusevraestelle baseer is.
  7. Lees elke vraag aandagtig en maak seker jy verstaan wat gevra word. Daardie ooglopende regte of verkeerde antwoord is miskien juis nie die een wat jou ‘n punt gaan gee nie. Sien punt 3 bo.
  8. Gebruik al die tyd tot jou beskikking vir voorbereiding, maar moet nie dat te min tyd jou daarvan weerhou om te skryf nie. Jy kan miskien net aangenaam verras word.

Vir die rekord, my uitslag was 92%. Nie sleg vir ‘n ou toppie wat 21 jaar laas eksamen geskryf het nie (en vir die laaste drie jaar buite die adviesomgewing van versekering gestaan het)!

Corinus du Toit