Afrigter Praatjies

Posted on

Die Cheetahs is ten minste dié keer voor die res wat die aanstel van ‘n afrigter betref. Franco Smith verstaan die Vrystaat kultuur, en volgens berigte geniet hy hoë aansien in Europa waar hy sy tande as afrigter gesny het. Benewens sy ondervinding oorsee sou hy ook as speler by die Bulls waardevolle ondervinding opgedoen het ten opsigte van die professionele strukture wat daar in plek is/was.

Die Stormers, onder Gert Smal se stil leiding, het blykbaar aanvanklik voelers uitgesteek na John Mitchell, maar dié het kleinkoppie getrek weens verskeie redes, onder andere die feit dat Smal se kontrak slegs twee jaar oor het, en hy onseker voel oor wat daarna kan gebeur. John Plumtree blyk tans die sterkste moontlikheid te wees. Luidens berigte is hy tans aan die onderhandel met sy werkgewers in Nieu-Seeland, en lyk die kanse goed dat hy dalk die skuif sal oorweeg. Een van die grootste uitdagings vir enige afrigter van die senior span in die Kaap bly maar die raadsaal politiek, soos duidelik geblyk het uit Rassie Erasmus se onverwagse bedanking. Ek sou net graag wou sien dat Brendan Venter ook in die strukture betrek word – sy genialiteit kan nie onder die maatemmer gebêre word nie.

Daar is geen twyfel dat die Lions waarskynlik die beste gaan vaar wat kontinuïteit betref nie. Johan Ackermann se posisie is so veilig soos Ruan Combrink onder ‘n hoë bal, maar dieselfde kan nie van die Bulls en Sharks se afrigters gesê word nie.

Daar is niks berig, in wat ek gelees het, van die onlangse gesprek tussen Frans Ludeke en die manne in beheer van Bulls rugby nie. Tog is daar skynbaar groot ongelukkigheid dat die span se rugby, ondanks puik spelers, die kreeftegang gegaan het die afgelope seisoen of twee. Druk van die oud-spelers kan dalk bydra daartoe dat Ludeke, ondanks groot sukses vyf jaar gelede, sy tasse sal moet pak. As mens alle ander oorwegings buite rekening laat, sou Jake White vir my die ideale kandidaat wees om die Bulls af te rig. Hulle is ‘n gedisiplineerde span, en Jake sou nie dieselfde probleme ondervind het as by die Sharks nie. Om vir Matfield en Fourie du Preez te betrek, soos daar bespiegel word, sal nie noodwendig vernuwende denke van buite inbring nie. Dit is dalk juis wat skort by die Bulls.

Gary Gold sal heel waarskynlik aanbly by die Sharks, in die wete dat sekere van die spelers wat na bewering die kitaar probeer slaan het, nie volgende jaar daar gaan wees nie, en omdat hy maar redelik kort daar is. Tog sal hy ook ervaar dat Shakespeare se woorde, “Uneasy lies the head that wears a crown”, baie waar is.

Dan is daar natuurlik ook nog die Kings, wat maar net nie aan die gang kan kom nie. Carlos Spencer het nie die pyp gerook as hoofafrigter nie, en die kandidate van buite wat wel genader is, het kleinkoppie getrek, amper asof hulle bang is dat hul reputasie deur assosiasie benadeel kan word. Mens het gehoop dat daar teen hierdie tyd meer goeie spelers betrek sou wees by die Oos-Kaapse span, maar dit lyk meer soos die geheime begraafplaas vir ou olifante as ‘n klomp jong bulle wat die grotes wil uitdaag.

Super-15

Die grote, uit ‘n plaaslike oogpunt, word die naweek in Durban beslis. Die Stormers het klaarblyklik klaar boedel oorgegee wat die algehele tweede plek op die punteleer betref. Kom ons hou maar styf duim vas dat Coetzee nie kort voor die wedstryd homself in die posisie bevind waar ‘n oorwinning met vier drieë bepalend kan wees vir ‘n tuis halfeindstryd nie. Die Sharks se onvermoë om te wen, weens ‘n uitmergelende toer so paar jaar gelede, lê nog vlak in die geheue. Ek onthou dat ons destyds gesê het: Die gees was gewillig, maar die vlees gedaan.

Springbok Rugby

Met die Super- 15 kwarteindstryde nog twee weke weg, skuif die media se fokus al hoe sterker na praatjies oor die Wêreldbeker, en hoe die Rugbykampioenskap gaan bepaal wie soontoe gaan.

Heyneke Meyer het aangedui dat hy met ‘n kombinasie van jeug en ervaring die beker wil wen. Hy het ook gewaarsku dat huidige spelers nie kan verwag om sommer net op reputasie die span te haal nie. Daar is heelwat spelers wat tans in Europa speel van wie mens min hoor. Een van Meyer se groot gunstelinge aan die begin van sy tyd by die Bokke was Morné Steyn, wat die afgelope twee weke uitgeblink het in Frankryk deur onder andere 28 punte in een wedstryd aan te teken. As die argument geld dat Ruan Pienaar moet speel weens sy ondervinding van Europese toestande, moet dit ook in Steyn se guns tel.

Ten slotte wil ek ‘n klip in die bos gooi – as Heyneke twee ekstra spelers wil saamvat, en binne die reëls bly, kan hy gerus vir Victor Matfield en Jean de Villiers as deel van sy afrigtingspan insluit. In die geval van beserings, kan hulle sommer dadelik die baadjie uittrek en die nuwe glip-en-gly trui oor die kop trek.

Of wat praat ek alles, Ou Grote?