Super 15 Hoogtepunte

Posted on

Die slag van Wellington

Julle is welkom om my onpatrioties te noem, maar die wedstryd waarna ek die meeste uitsien hierdie naweek is die riller in Wellington, NZ, waar die Hurricanes op hul tuisveld kragte meet met die formidabele Chiefs.

Hoewel die besering van Aaron Cruden ‘n groot terugslag is vir die besoekers, sal die vertoning van sy plaasvervanger, die 20-jarige Damien McKenzie baie belangstelling lok. Is hy dalk die nuwe Dan Carter? Die man wat ons eie Handré Pollard eendag in toom sal moet hou in toetsrugby?

Kan jy jou iets lekkerders indink as die tweestryd (of moet dit vierstryd wees?) tussen die Hurricanes se Conrad Smith and Ma’a Nonu teen die Chiefs se Charlie Ngatai en Sonny Bill Williams?

Ek is glad nie skaam om te sê dat, waar dit net oor rugby as spel gaan, ek tans veel eerder na die Kiwi’s kyk, as ons eie plaaslike spanne nie. Selfs die Blitsbokke het Saterdag eerder stampkarrugby teen Fidji probeer speel, en sleg tweede gekom. Daai manne is nie groot nie, hulle is GROOT. En sterk. En vinnig.

Op die plaaslike front

Die Bulle kon waarskynlik nie vir ‘n beter begin vir die toer gewens het as ‘n wedstryd teen die NZ agterosse, die Blues nie. Die Bulle se beginspan lyk ook formidabel, en selfs die gehardste Kapenaar sal maar moeilik op Superbru die Blues as wenners kies. Daar is veral twee faktore waarteen die manne van Pretoria moet waak: oorgerustheid, soos die Stormers onlangs in hul wedstryd teen die Cheetahs, en vlugflouheid, wat altyd ‘n faktor is in die eerste wedstryd van die toer.

Die Sharks het hul span onveranderd gehou vir die wedstryd teen die verdedigende kampioene, die Waratahs. Mens vertrou dat hulle sal voortbou op verlede week se verbeterde verdediging, veral met die oog op aanvallende spelers soos Israel Folau en Adam Ashley-Cooper.

Die wedstryd tussen die Brumbies en die Leeus gaan ook iets wees om na uit te sien. Gewoonlik is die Aussies die meer skouspelagtige span, maar in hierdie geval is dit die Leeus wat die bal gaan lug gee. Mens hoop net die skeidsregter het kennis geneem van verlede naweek se 19 – 5 strafskoptelling “ten gunste” van die Brumbies. As hulle nie wil hoor nie, moet hulle af. Die skeidsregter is nie ‘n afrigter nie.

Die Cheetahs het niks om te verloor Saterdag teen die Highlanders nie, iets wat hulle al in die verlede goed te pas gekom het om bo die verwagting van hul ondersteuners te presteer. Die enorme beseringslys plaas egter ‘n demper op enige hoop dat hulle die besoekers sal kan kniehalter. Dit gaan egter ook, hopelik, ‘n baie skouspelagtige wedstryd wees om so met die een oog op die braaivleisvuur, en die ander op die skerm, te kyk.

Blitsbokke

Dit lyk onwaarskynlik dat ons vanjaar as kampioene gekroon gaan word, selfs al wen ons die toernooi in Londen. Fidji is geloot saam met Samoa, Argentinië en Kanada, en met die beste wil in die wêreld kan ek nie sien hoe hulle nie minstens die halfeindstryd gaan haal nie. Dit sal hulle dan bo-aan die puntelys plaas, en ons, hopelik, tweede.

Wat my bekommer oor die toekoms is dat Fidji se nuwe afrigter besig is om ‘n nuwe dimensie aan hul spel te verleen. Dis nie meer net spoed en grootte nie, hulle speel ook intelligente rugby, en is baie meer geneig om uit te gee as voorheen.

Hulle herinner my aan die Wes-Indiese krieketspan in die dae van Sylvester Clarke en Kie. – jy is geïntimideerd nog voor jy op die veld gaan.

Hopelik kan ons voor die Olimpiese spele ‘n teenvoeter uitwerk.

Lekker naweek, Grootman. As jy dan moet skink, maak dit maar ‘n dubbel.