Rupert se Leopard Creek SMS aan Kallis

Posted on

Altus Momberg het verlede week in Media24 berig oor hoe Jacques Kallis en Mark Boucher lewenslange lidmaatskap van Leopard Creek gekry het.

Tydens die spoggeleentheid in die Cape Sun-hotel, waar Kallis vereer is deur sy skool se Old Boys, Wynberg Boys’ High School, het hy die volgende vertel:

Hy het dié staaltjie oor sy eerste dubbele honderdtal – teen Indië in Centurion in 2010 – met die gaste gedeel.

“Ek was oornag op 102 nie uit nie toe ek ’n SMS-boodskap van die Kaapse sakeman Johann Rupert op my selfoon gekry het wat gelees het: “laaste kans. Leopard Creek.”

Rupert is die eienaar en ontwikkelaar van Leopard Creek, een van die gesogste gholflandgoedere op die grens van die Krugerwildtuin.

“Ek het die boodskap vir Bouchie gewys en hy het gesê ja, hy weet, hy het ook die boodskap gekry.

“Dis toe dat ek sien dat die ratte in sy brein begin beweeg. Hy sê toe: ‘Ek het hard hieroor gedink en besef dat as jy ’n lewenslange lid van Leopard Creek is, kan jy mos altyd ’n gas met jou saamneem en as jou pêl, sal ek dan ook gereeld Leopard Creek toe kan gaan’.”

Kallis het gesê dis toe hy besef het dat die druk nou regtig op hom was.

“Die volgende dag toe ek met die middagete van die veld stap (met my telling op 182*), het Bouchie vir my bo by die trappe gewag en gevra: ‘Is daar iets wat ek vir jou kan kry?’

“Dit was baie vreemd, want hy het nooit gekyk wanneer ek kolf nie. My kolfwerk het hom glo verveel. Maar noudat hy aangebied het, toe gryp ek my kans. ‘Gaan sit asseblief my handskoene en beenskutte in die son; ek wil graag hoender hê om te eet, ensovoorts.

“Die feit dat Mark bereid was om alles vir my te doen, het my laat besef hoeveel weer op die spel was.

“Daai was die langste middagete-pouse van my loopbaan,” het die legendariese kolwer gesê.

“Toe ek ná die pouse uiteindelik 200 kon verbysteek, was dit ’n ongelooflike gevoel. Ek het die mylpaal gevier met ’n gholfhou en jy kon sien hoe gelukkig Bouchie was.

“Die toeskouers se reaksie was verstommend. Hulle het vir ’n hele paar minute gestaan en my toegejuig. Dit het aangehou en aangehou,” het Kallis vertel.

’n Paar maande later was Boucher toe Kallis se gas by die geleentheid by Leopard Creek waar Rupert die lidmaatskap aan hom oorhandig het.

“Rupert het toe tydens dié aand vir Boucher gesê dat as hy nog net 1 meer slagoffer in internasionale krieket kon gekry het, sou hy ook lewenslidmaatskap ontvang het. Boucher het in T20-, kits- en toetskrieket  saam 999 slagoffers as ’n paaltjiewagter geneem.

“Rupert sê toe vir my hy het die bal waarmee Shane Warne­ sy 300ste toetspaaltjie geneem het en as ek (as daai slagoffer) die bal sou teken, dan sal hy vir Boucher ook ’n lidmaatskap gee.

“Ek sê toe: ‘Nie ’n kans nie’.”

“Boucher het egter toe vir Rupert gesê dat die sakeman ’n fout begaan het en dat hy wél 1 000 slagoffers in internasionale krieket gehad het.

“Ek het ook ’n paaltjie (as ’n bouler in ’n toets) geneem. Dit gee my ’n 1 000’.”

Rupert het gelag en die gewese paaltjiewagter is ook vandag ’n lewenslange lid van Leopard Creek.

Baie dankie vir die deel hiervan, Altus.