Die vis vrot van sy kop af

Posted on 2 Comments

Die spreekwoord sê dinge kan nie doller as kopaf raak nie, maar as ek so na SA politiek en sport kyk, smaak dit my ons gaan die idioom herskryf.

Dit wat nou by die Cape Cobras aan die gang is, is absoluut tekenend van wat besig is om te gebeur in rugby en krieket. Die spelers wil verbeter en presteer, en daarvoor het hulle ‘n afrigter nodig wat hul talent kan ontwikkel. Hulle voer aan dat die huidige ruiter in die saal nie die vermoë het nie.

Die WP krieket-unie sê die spelers is hul grootste bate, maar hulle staan by hul afrigter. Wat heel waarskynlik gaan gebeur, is dat hulle nou konsultante gaan aanstel om die werk van die afrigter vir hom te doen, nes die onbekwame politici.

AB de Villiers het dit nie in soveel woorde gesê in sy boek nie, maar inmenging van bo het ons nie net die halfeinstryd in die Wêreldbeker gekos nie – die span het konstant onderpresteer daarna. Net die tyd sal leer wat die impak van die kwotas wat sedertdien ingestel is, sal wees. Op die langer termyn gaan ons waarskynlik baie geld moet inploeg in die ontwikkeling van nuwe spelers, want ek kan nie sien hoe die ABs en Fafs van more en oormore hier gaan bly speel in die hoop om die span te haal, bloot omdat hulle die beste in die land is nie. Selfs dit mag nie goed genoeg wees nie. Daarmee saam natuurlik ook nog die swak rand, weereens danksy die politici, wat dit uiters aanloklik maak vir ons opkomende sterre om hul heil elders te soek, en nasionale verteenwoordiging vir lande soos Engeland, Nieu-Seeland en, my bange hart, Australië.

Al die slim manne bied nou raad aan Rugby SA. Ek sien hulle gaan self ook in Oktober beraad hou om te kyk wat fout is. Hoekom moet ons reaktief optree as ons al die tyd in die wêreld had om die regte afrigter en bestuurspan te identifiseer? Die laat aankondiging van Allister Coetzee as nuwe Bok afrigter, en die patetiese poging om hulpafrigters aan te stel om die politici tevrede te stel, eerder as om die span te help presteer dui baie duidelik op swak bestuur, ondermyn deur provinsialisme wat geensins die nasionale belang voorop stel nie.

Soos Corné Krige in vanoggend se koerant aangehaal word:

“Allister kan bloot werk met dit wat hy kry. Ek het baie deernis vir hom, want daar is baie vrae oor sy afrigtingspan.

“Ek steun transformasie, maar Mzwandile Stick is, met alle respek, uit sy diepte uit. Hy is as die agterlynafrigter aangestel ná twee seisoene as breier van die swakste unie in ons land se o.19-span.

“Hy mag dalk baie talent hê, maar op toetsvlak het jy jare se ervaring nodig. Om die Springbokke af te rig, is moeilik genoeg en die besluitnemers moet iewers pa staan vir sulke onderdeurdagte besluite.”

Dit wil ook voorkom of ons dieselde paadjie gaan loop met Dawie Theron se opvolger by die junior Springbokke as wat met Allister Coezee se aanstelling gebeur het. Die loting vir volgende jaar se Wêreldbeker toernooi is gister aangekondig, maar ons span het nog nie ‘n afrigter nie.

Die kersie op die koek is die ruggraatloosheid wat toelaat dat Superrugby weer volgende jaar die mislukking van vanjaar se stelsel gaan dupliseer. Wil hulle eers hê die stadions moet heeltemaal leeg loop, en TV borgskappe opdroog omdat kykergetalle onvoldoende is? Kyk hoe sukkel die manne nou al om borge te kry.

Dankie vader die somer is op hande. Nou kan ek heerlik gras sny, geute skoonmaak en lang ente met die honde gaan stap terwyl ek wag vir die sport om klaar te maak sodat ek iets ordentliks op TV kan kyk.

Dis eintlik nie heeltemaal waar nie. Ek vind die mode kanaal op DSTV baie meer strelend op die oog as die sportkanale. Net jammer dis ook maar baie soos die hond wat die bus jaag, en dan nie weet wat om daarmee te maak as hy dit vang nie.

2 thoughts on “Die vis vrot van sy kop af

  1. Why, oh why did we not take a leaf from new Zealand’s book on transformation. They created a Maori team which developed to such an extent that almost all the players in the All Blacks are proudly Maori (or part-Maori) – ignoring the naturalized Islanders?

  2. 10 uit 10 !!

Comments are closed.