Afrikaanse Eksamens

Posted on

Die eerste uitslae is verlede week bekend gemaak, maar slegs die Raad op Finansiële Dienste (RFD) mag statistieke hieroor bekend maak. Ons wil egter graag ‘n dringende beroep doen op diegene wat die loodseksamens geskryf het, sowel as diegene wat sedert 28 Maart geskryf het, om hul ervaring met ons te deel.

Daar bestaan by baie Afrikaanssprekende kandidate onsekerheid oor of hulle in Engels of Afrikaans moet skryf. Een van die kwelpunte wat geopper is, is die feit dat studie materiaal in Afrikaans nie geredelik beskikbaar is nie. Die RFD het wel die voorbereidingsgids laat vertaal, sowel as ‘n woordelys van Afrikaanse en Engelse terme, en dit help met voorbereiding vir die eksamen self.

Die Kwalifiserende Kriteria in Afrikaans, wat hierin vervat is, lei ook tot beter insig en begrip van wat u moet weet, maar die kruisverwysings na die betrokke wetgewing neem leerders na die Engelse wetgewing. Behalwe vir die oorspronklike FAIS-Wet, is die ander wetgewing en Raadskennisgewings nie in Afrikaans beskikbaar nie. Die FAIS-Wet is in 2002 gepubliseer, en heelwat wysigings is intussen aangebring.

Van die vertwyfeling wat teenoor ons uitgespreek is, is dat kandidate mag sukkel met die vertaalde vrae. In wese beteken dit dat u die kriteria in Afrikaans lees, die wetgewing in Engels naslaan, en dan u begrip in Afrikaans moet toon.

Ons kan u verseker dat daar baie moeite gedoen is om vertaalde vrae van presies dieselfde gehalte as die Engelse vrae beskikbaar te stel. Een van die mees algemene versugtings van onsuksesvolle kandidate is dat die vrae nêrens in hul studiemateriaal voorkom nie. Soos dikwels tevore uitgewys, is die vrae aan die hand van die wetgewing opgetrek, en nie enige ander handboek nie.

Wat die oorblywende tyd betref, wil ons kandidate maan om bostaande skakel te gebruik om te kyk hoeveel eksamens daar nog voor die einde van Junie beskikbaar is. Onthou dat die Afrikaanse eksamens slegs op beperkte skaal, in geselekteerde lokale aangebied word. Bepaal waar en wanneer u gaan skryf, bespreek en stel dan u voorbereiding rondom dit vas.

Dit sal egter baie goed wees om te hoor hoe dinge in die praktyk afgeloop het, en lesers wat al die eksamens in Afrikaans afgelê het, is baie welkom om hul ervaring met ons te deel. Vertel ons hoe julle voorberei het, en hoe julle die vrae ervaar het.